POLIGRAAFTOETSE: DIE NUWE MODEWOORD

Vrydag, Januarie 4th, 2013

Deur Phil Davel

 

Inhoudsopgawe

 

  1. Hoe werk ʼn poligraaftoets?
  2. Die probleem met poligraaftoetse
  3. Poligraaftoetsing in die buiteland
  4. Poligraaftoetsing in Suid-Afrika
  5. Die status van poligraaftoetse: Die KVBA en die Arbeidshof
  6. Poligraaftoetse: Jou regte
  7. Vereistes vir poligraaftoetse
  8. Die billike gebruik van polifgraaftoetse
  9. Opsomming
  10. Bronnelys

 

Inleiding

 

Poligraaftoetse is ʼn relatiewe nuwe verskynsel in Suid-Afrika, veral wat die gebruik daarvan in die werkplek betref. Dit word deesdae algemeen en soms arbitrêr deur werkgewers aangewend om werknemers wat onder verdenking staan van diefstal, oneerlikheid, bedrog, korrupsie, ernstige alkoholmisbruik of die gebruik van verbode narkotiese middels in die werksplek skuldig of onskuldig te bevind.

 

Hoewel daar ʼn beduidende toename in die gebruik van poligraaftoetse in Suid-Afrika is, is hierdie vorm van toetsing niks nuuts nie. Die idee dat daar sekere fisiologiese tekens is as iemand oneerlik is of leuens vertel, is al sowat 2 000 jaar oud. In Wes-Afrika is beskuldigdes gevra om ʼn voël se eier per hand onder mekaar aan te stuur. Die persoon wat die eier gebreek het, was geag die skuldige party te wees op grond van senuweeagtigheid. In Antieke China moes ʼn persoon wat van ʼn misdryf aangekla is ʼn hand vol rys in haar mond hou terwyl die aanklaer haar aangekla het. Omdat geglo is dat spanning lei tot ʼn droë mond is ʼn aangeklaagde skuldig geag indien die rys in haar mond droog gebly het. Poligraaftoestelle is eers in die 1900’s ontwerp deur mense soos dr. James Mackenzie van Skotland en William Marston van die VSA.

 

  1. 1. Hoe werk ʼn poligraaftoets?

 

ʼn Poligraaftoets is tegnies gesproke ʼn leuenverklikkertoets. Dit beteken “baie geskrifte” en verwys na ʼn toestel wat opnames maak van fisiologiese veranderings in asemhaling, bloeddruk, polsslag en velreaksie terwyl ʼn persoon ʼn aantal vrae beantwoord. Dit werk op die outonome senuweestelsel, dit wil sê die toestel meet die reaksies van die menslike liggaam wat outomaties en onbeheersd plaasvind, soos ʼn versnelde hartklop, sweterige handpalms en vergrote pupille, tydens vrees of verhoogde bloeddruk.

 

ʼn Poligraaftoets behels drie fases:

 

  • ʼn Voortoetsonderhoud waar die persoon wat die toets sal ondergaan sielkundig daarvoor voorberei word. Die ondervraer bekom inligting wat verband hou met die toets in ʼn neutrale onderhoud en die toetsvrae word daarvolgens geformuleer.
  • Die toetsfase waar die toets afgelê word. Drie sensortoestelle word aan die persoon gekoppel ‒ een om sy asemhaling en beweging van die bolyf te toets; een wat sy vel se onbewustelike reaksie op die vrae monitor; en een wat sy bloeddruk en hartklop monitor. Die toetsvrae word minstens twee keer gevra en alle fisiologiese reaksies word gemonitor. Die inligting wat versamel word, word deur ʼn skootrekenaar opgeneem wat dit numeries verwerk, waarna die uitslag uitgedruk en deur ʼn poligrafis ontleed word.
  • Die natoetsonderhoud waartydens die uitslag van die toets bespreek word.

 

ʼn Poligraaftoets duur sowat twee ure.

 

  1. 2. Die probleem met poligraaftoetse

 

Hoewel die  psigologiese metings van poligraaftoetse korrek is, is die toetse gebaseer op die aanname dat misleiding bepaal kan word uit veranderings in fisiologiese aktiwiteit ‒ daar bestaan nog geen toestel wat so iets kan meet nie. Eenvoudiger gestel, poligraaftoetsing is gebaseer op die veronderstelling dat fisiologiese aktiwiteite (soos asemhaling, bloeddruk, polsslag en velreaksie) toeneem indien ʼn persoon ʼn leuen vertel en dat ʼn poligraaftoets hierdie misleiding kan meet. Die veronderstelling gaan selfs nog verder, naamlik dat as dit moontlik is om deur die toename (of afname) van fisiologiese aktiwiteit te bepaal dat ʼn persoon ʼn leuen vertel, dit gevolglik moontlik sal moet wees om te bepaal tot watter mate die persoon nie die waarheid praat nie.

Poligraaftoetse geniet min geloofwaardigheid onder wetenskaplikes. Ten spyte van bewerings dat poligraaftoetse tussen 80% en 95% akkuraat is, glo kritici dat die prosedure slegs neerkom op ʼn niestandaardiseerbare ondervragingstegniek waarvan die akkuraatheid nie bepaal kan word nie. Prof. David Martin van die Universiteit van Noord-Carolina in die VSA het bevind dat poligraaftoetse verkeerdelik gebruik word om menslike emosies te probeer meet. Hy glo dit is ʼn valse aanspraak omdat selfs nie eens sielkundiges presies kan bepaal watter emosies ʼn mens het nie – nog minder ʼn poligraaftoets.

Hoewel stawende argumente teen poligraaftoetsing gebring kan word, word dit wel met vrug binne ʼn gekontroleerde omgewing aangewend. Poligraaftoetse kan self bydra tot die daarstelling van regspraak. Gevolglik word poligraaftoetse regoor die wêreld gebruik.

  1. 3. Poligraaftoetsing in die buiteland

VSA

Weens die onderliggende probleme met die geloofwaardigheid van poligraaftoetse was die VSA een van die eerste lande wat poligraaftoetsing deur wetgewing begin reguleer het. Die Employee Polygraph Protection Act van 1988 verhinder werkgewers in die algemeen om leuenverklikkertoetse in onderhoude en tydens die duur van ʼn dienskontrak te gebruik. Die wet maak wel voorsiening vir uitsonderings soos die gebruik van poligraaftoetse om bystand te verleen in gevalle waar ʼn werknemer ekonomiese verlies of skade gelei het weens optrede van ʼn werknemer. (Die werknemer wat onder verdenking staan van die misdryf moet egter toegang hê tot die perseel wat onderhewig is aan die ondersoek en die werkgewer moet ʼn redelike vermoede omtrent die werknemer hê). ʼn Verdere uitsondering is die gebruik van poligraaftoetse in sake voortspruitend uit diefstal of verlies as die werkgewer handel dryf in wetlik beheerde middels. In United States v. Scheffer (1998) het die hooggeregshof dit aan individuele jurisdiksies gelaat om te besluit of hulle poligraaftoetse as bewysmateriaal in regsake wou toelaat.

Europa

In die meeste Europese lande word poligraaftoetse nie as betroubare bewysmateriaal in hofsake beskou nie. In die meeste sake word enige party toegelaat om ʼn sielkundige verslag gegrond op ʼn poligraaftoets as bewys in te handig. Die Federale Geregshof in Duitsland het die gebruik van poligraaftoetse as getuienis verbied.

Kanada en Australië

In Kanada word poligraaftoetse gereeld gebruik, veral as forensiese middel in strafsake asook in werksonderhoude by regeringsorganisasies. In Australië is poligraaftoetse as getuienis in sake al deur die howe verbied omdat dit op hoorsê gegrond is.

  1. 4. Poligraaftoetsing in Suid-Afrika

Poligraaftoetse het die afgelope paar jaar in gewildheid toegeneem in Suid-Afrika. Daar is tans egter geen wetgewing om die gebruik van poligraaftoetse te beheer of om werknemers teen die misbruik van poligraaftoetse te beskerm nie en uiteenlopende standpunte heers oor die toelaatbaarheid van poligraaftoetse. In sommige hofsake is die uitslag van poligraaftoetse as ontoelaatbare getuienis verwerp, terwyl dit in ander sake wel in ag geneem is waar ander stawende bewyse teenwoordig was.

Volgens Bouwer Haupt van die Polygraph Association of South Africa (PASA) en direkteur van SA Polygraph and Investigation Services (SAPIS) moet werknemers besef dat ʼn poligraaftoets slegs onskuld kan toon en nie skuld op ʼn aanklag kan bewys nie. “Die uitslag van die toetse is boonop vertroulik en die privaatheid van die persoon wat getoets word, moet sover moontlik beskerm word. ʼn Persoon wat die toets afgelê, is ook geregtig daarop om die uitslag van die toets te kry,” sê Haupt.

Oor die algemeen mag poligraaftoetse as stawende getuienis aangewend word, met ander woorde dit mag gebruik word om meer konkrete getuienis te versterk. Indien ʼn poligraaftoets egter op sy eie gebruik word, is dit onwaarskynlik dat ʼn hof enige noemenswaardige gewig daaraan sal heg.

  1. 5. Die status van poligraaftoetse: Die KVBA en die Arbeidshof

Die kwessie rondom die toelaatbaarheid van poligraaftoetsing en die toelaatbaarheid van deskundige getuienis van poligrafiste is al verskeie kere deur die KVBA en die Arbeidshof oorweeg.

In Steen v. Wetherleys (2006, 2 BLLR 222) is ʼn takbestuurder weens diefstal of growwe nalatigheid ontslaan nadat groot hoeveelhede goedere verdwyn het. Sy ontslag was grotendeels op die uitslag van ʼn poligraaftoets en die getuienis van die ondersoeker gegrond. Die kommissaris van die KVBA het bevind dat die poligraaftoetsuitslag onwetenskaplik was en die ondersoeker se getuienis as hoorsê afgemaak. Die KVBA het bevind dat die ontslag onbillik was en 12 maande se salaris as vergoeding aan die werknemer toegeken.

In Sosibo & Others and CTM KN47280 het kommissaris Rycroft bevind dat ʼn poligraaftoets slegs ʼn aanduiding van misleiding kon verskaf. Die alleenstaande getuienis van ʼn poligraaftoets was onvoldoende om aan die onus ingevolge artikel 192 van die Wet op Arbeidsverhoudinge (Wet 66 van 1995) te voldoen om te bewys dat die ontslag billik was. In Amalgamated Pharmaceuticals Ltd v. Grobler NO & Others (2004, 6 BLLR 537) het die Arbeidshof ook bevind dat ʼn poligraaftoets slegs ʼn aanduiding van misleiding (deur nie die waarheid te praat nie) kon verskaf en nie die aangeklaagdes se skuld op die aanklag kon bewys nie.

Wat betref die toelaatbaarheid van deskundige getuienis is poligrafiste se getuienis al aanvaar, maar die betroubaarheid daarvan moet getoets word. ʼn Poligrafis moet getuig oor hoe die toets onderneem is, sy/haar kwalifikasies en die vrae wat gevra is. ʼn Verslag deur ʼn poligrafis is in SAACCAWU and Sterns Jewellery NP144 verwerp, omdat sy kwalifikasies nie bekend was aan die kommissaris van die KVBA nie en hy ook nie geroep is om te getuig nie. In die Sosibo-saak is bevind dat hoewel die poligrafis ʼn kundige op die gebied van poligraaftoetsing was, hy nie ʼn geregistreerde dokter of sielkundige was nie. In Mncube & Cash Paymaster Services (Pty) Ltd KN1583 is die twee poligrafiste se deskundige getuienis wel aanvaar, maar die betroubaarheid daarvan moes getoets word. Die kommissaris het onder andere bevind dat hy nie oortuig was dat die meting van fisieke veranderings ʼn besliste aanduiding van skuld kan bied nie, aangesien sulke veranderings ook deur ander geestelike en emosionele toestande, soos verleentheid, angs of woede, veroorsaak kan word.

  1. 6. Poligraaftoetse: Jou regte

Kan ʼn werknemer gedwing word om ʼn poligraaftoets af te lê en kan hy ontslaan word indien hy weier?

Geen werknemer kan gedwing word om ʼn poligraaftoets te ondergaan nie ‒ dit sal strydig met die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika wees. Werknemers moet eers skriftelik toestemming gee en dit kan vooraf verkry word deur ʼn klousule by hulle dienskontrak in te sluit waarvolgens hulle onderneem om poligraaftoetse te ondergaan.

Weiering om ʼn poligraaftoets te ondergaan, mag nie gekonstrueer word as skuld nie en is nie gronde vir ontslag nie. In Harmse & Rainbow Farms (Pty) Ltd WE 1728, 1997 het die werknemer geweier om ʼn tweede poligraaftoets af te lê nadat hy die eerste toets gefaal het. Die werkgewer het die weiering voorgehou as vertrouensbreuk en die werknemer ontslaan.  Die KVBA het die werkgewer gelyk gegee en bevind dat redelike gronde vir so ʼn vertrouensbreuk moet bestaan. In CEPPAWU obo Modjadji & Others v. Altech Namitech (Pty) Ltd (2008) 11 BALR 1013 (SCPNPI) het drie werknemers wat verdink was van diefstal geweier om ʼn poligraaftoets te ondergaan nadat hulle hul kontraktueel daartoe verbind het. Die werkgewer het hulle aangekla van verbreking van goeie trou en aangevoer dat hulle nie meer vertrou kon word nie. Hulle is skuldig bevind en ontslaan. Hier het die KVBA die ontslag ter syde gestel omdat die werkgewer die werknemers slegs aangekla het van verbreking van goeie trou en nie diefstal nie. Die verbreking van goeie trou opsigself was dus nie genoegsame gronde om die werknemers te ontslaan nie.

 

  1. 7. Vereistes vir poligraaftoetse

Die vereistes waaraan ʼn poligraaftoets behoort te voldoen, is soos volg:

  • Die persoon wat die toets sal ondergaan, moet in kennis gestel word dat die ondervraging vrywillig is.
  • Die toets mag nie sonder die persoon se skriftelike toestemming plaasvind nie.
  • Die poligrafis moet gekwalifiseerd, onafhanklik, objektief en onpartydig wees.
  • Die redes vir, asook die soort vrae wat gevra word, moet verduidelik en waar moontlik vooraf met die werkgewer bespreek word.
  • Die persoon wat ondervra word, is geregtig op ʼn tolk en mag versoek dat ʼn ander persoon tydens die ondervraging teenwoordig moet wees, mits die persoon nie met die prosedure inmeng nie.

Die uitslag van ʼn poligraaftoets is vertroulik en mag nie aan enige ander persoon behalwe ʼn gemagtigde persoon uitgereik word nie. ʼn Gemagtigde persoon is die persoon wat ondervra is en/of iemand wat skriftelik deur die werkgewer en die betrokke persoon gemagtig is om die uitslag te ontvang.

  1. 8. Die billike gebruik van poligraaftoetse

Verskeie pogings kan binne en buite die werkplek aangewend word om die gebruik van poligraaftoetse te reguleer en te verseker dat dit billik aangewend word:

In die werkplek

  • Werkgewers kan ʼn klousule in werknemers se dienskontrakte insluit ingevolge waarvan die werknemers instem om poligraaftoetse te ondergaan.
  • Werkgewers moet in hulle beleidskrifte voorsiening maak vir die afneem van poligraaftoetse, die regulering daarvan asook die regte van hulle werknemers.
  • Werknemers moet vooraf ingelig word presies wat hulle regte is voordat ʼn poligraaftoets afgeneem word.

Buite die werkplek

  • Colin Tredoux en Susan Pooley stel voor dat wetgewing wat soortgelyk is aan die Employee Polygraph Protection Act van 1988 van die VSA in Suid-Afrika gepromulgeer word. Sulke wetgewing is nodig omdat die vertroue en gewig wat aan poligraaftoetse gekoppel word aan die toeneem is, alhoewel dit “fundamenteel misplaas” is. (Polygraph-based Testing of Deception and Truthfulness: An Evaluation and Commentary (2001): 22 ILJ 819)
  • Dit was in die verlede voorgestel dat die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) riglyne ten opsigte van die registrasie, kwalifikasies en akkreditasie van poligrafiste instel.
  • Spesifieke riglyne kan vir KVBA-kommissarisse neergelê word om ʼn eenvormige standaard daar te stel ten opsigte van die toelaatbaarheid en betroubaarheid van poligraaftoetse, asook die gewig wat aan poligraaftoetse as bewysmateriaal toegeken word.
  1. 9. Opsomming

Ten spyte van die omstredenheid rondom poligraaftoetse is die gebruik daarvan aan die toeneem in Suid-Afrika. Poligraaftoetse word beskou as ʼn vinnige en kostedoeltreffende metode om skuldiges uit te wys en hulle dienooreenkomstig te straf. Die hoofbelang is dat ʼn werknemer se konstitusionele regte (soos die reg op vryheid en sekerheid van die persoon (artikel 12), die reg op privaatheid (artikel 14), die reg om onskuldig geag te word en nie selfinkriminerende getuienis af te lê nie (artikel 35(3)), asook regs- en etiese kwessies noukeurig opgeweeg moet word teen ʼn werkgewer se reg om sy eiendom en besigheid te beskerm.

In die onlangse saak van FAWU obo Kapesi and Others v. Premier Foods Ltd t/a Ribbon Salt River (C/07)[2010]ZALC 61 (4 Mei 2010) het regter Basson sy uitspraak as volg afgesluit:

In the context of a disciplinary process the polygraph can be a useful tool in the investigation process, but can never substitute the need for a disciplinary hearing. A polygraph test on its own cannot be used to determine the guilt of an employee. In the context of an arbitration, the results of a polygraph may be taken into account where other supporting evidence is available, provided also that there is clear evidence on the qualifications of the polygraphist and provided that it is clear from the evidence that the test was done according to acceptable and recognisable standards.

Die doel van poligraaftoetse is nie om onweerlegbare bewyswaarde daar te stel nie. Dit moet slegs gebruik word indien dit ander toelaatbare getuienis kan ondersteun.

  1. 10. Bronnelys

“Scientific validity of polygraph testing: A research review and evaluation”. Washington, DC: US Congress Office of Technology Assessment. 1983. Retrieved 2008-02-29.

“Monitor on psychology – The polygraph in doubt”. American Psychological Association.  07-2004.

Psychology of human behavior – The Teaching Company”, kursus no. 1620, les 19. David W Martin.

“Polygraph testing – Is it as reliable and accurate as everyone thinks?” Kerry Knowles. 21 March 2002.

Wikipedia, The Free Encyclopaedia, “Polygraph”.

“Poligraaftoetse bestaan uit hierdie elemente”, Christel Raubenheimer, Beeld, 23 September 2003.

“Polygraph testing in the employment environment”, Johanette Rheeder, The South African Labour Guide, your guide to Labour Law in South Africa.

“Poligraaftoets wyer gebruik”, Helen Ueckermann, Rapport, 4 Desember 2005.

“Polygraph and the law in South Africa”, Polygraph Institute of South Africa (PASA).

 

  •  
  •  
  •  
  •  

Kommentaar is gesluit.