Siekteverlof vir kosmetiese behandeling

Woensdag, Maart 9th, 2011

Paul Mardon

1.         Ons ontvang periodiek navrae van lede wat wil weet of werkgewers geregtig om persone wat kosmetiese operasies ondergaan, te verplig om gewone verlof te neem, al boek die dokter die persoon af met ’n mediese sertifikaat.  Met ander woorde, mag die werkgewer regmatiglik siekteverlof weier in die geval van kosmetiese operasies?

2.         Ingevolge artikel 22 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, Wet No. 75 van 1997 (“die Wet”), is elke werknemer gedurende elke siekteverlof siklus geregtig op die volgende aantal dae siekteverlof met betaling:

2.1      Gedurende die eerste 6 maande diens, 1 dag siekteverlof vir elke 26 dae wat hy of sy gewerk het.

2.2      Na die eerste 6 maande diens, is ’n werknemer geregtig op ’n hoeveelheid siekteverlof met betaling wat gelyk is aan die getal dae wat die werknemer gewoonlik sou gewerk het gedurende ’n tydperk van ses weke.  Met ander woorde, as die werknemer ’n 5-dag werkweek gewerk het, sou hy of sy 30 dae gewerk het in ’n tydperk van 6 weke, d.w.s. die werkgewer sal geregtig wees op 30 dae betaalde siekteverlof gedurende elke 3 jaar gewerk.

3.         Daar moet op gelet word dat “siekteverlofsiklus” beteken die tydperk van 36 maande (3 jaar) diens by dieselfde werkgewer wat onmiddellik volg op die aanvang van ’n werknemer se diens; of die voltooiing van daardie werknemer se vorige siekteverlofsiklus.  Let wel, hierdie siekteverlof is nie 10 dae per jaar vir 3 jaar nie, maar 30 dae per 3-jaar siklus.  Die werkgewer mag nie ’n werknemer beperk om slegs 10 dae siekteverlof per jaar oor ’n 3-jaar tydperk te neem nie.

4.         Bogenoemde is die minimum aantal dae siekteverlof waarop ’n werknemer geregtig is.  Indien die werknemer se dienskontrak met die werkgewer, of die werkgewer se personeel- of siekteverlof beleid meer dae bepaal, is die werknemer op sodanige vermeerderde dae geregtig.

5.         Die effek van artikel 23 van die Wet is dat ’n werknemer nie betaalde siekteverlof vir meer as 2 opeenvolgende, d.w.s. vir 3 of meer, dae se afwesigheid van die werknemer hoef toe te staan nie, indien die werknemer nie ’n mediese sertifikaat voorlê wat verklaar dat die werknemer as gevolg van siekte of besering vir die duur van sy of haar afwesigheid nie in staat was om te werk nie.

6.         Die woorde “nie in staat was om te werk nie” in artikel 23 toon daarop dat die werknemer weens mediese redes ongeskik moes gewees het vir werk.

7.         Let daarop dat sodanige mediese sertifikaat uitgereik en onderteken moet wees deur ’n mediese praktisyn of ’n ander persoon wat gekwalifiseer is om pasiënte te diagnoseer en te behandel en wat geregistreer is by ’n beroepsraad wat by ’n Wet van die Parlement ingestel is, soos bv. die “Health Professions Council of South Africa” (HPCSA).  Die implikasie daarvan is dat enige mediese sertifikaat onderteken deur ’n kliniek suster, ’n kosmetiese praktisyn wat nie by die HPSCA geregistreer is nie, of ’n tradisionele geneser nie ’n aanvaarbare en toelaatbare mediese sertifikaat is nie.

8.         Indien die werknemer nie die mediese sertifikaat, soos voormeld, kan lewer nie, is die werkgewer geregtig om die tydperk van die werknemer se afwesigheid as onbetaalde verlof te neem en is die werknemer nie geregtig daarop om te eis dat dit as betaalde siekteverlof of as betaalde jaarlikse verlof geneem word nie.

9.         Die reg tot siekteverlof kom ’n werknemer slegs toe wanneer die werknemer nie in staat is om te werk nie as gevolg van siekte of besering.  Die 1983 weergawe van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes het vereis dat die ongeskiktheid om te kan werk nie deur die werknemer se eie optrede veroorsaak sou wees nie.  Hierdie vereiste geld egter nie meer in die Wet nie.  Die enigste geval waar ’n werknemer nie siekteverlof mag eis indien die werknemer nie in staat is om te werk a.g.v. siekte of besering nie, is waar die ongeskiktheid om te kan werk veroorsaak is deur ’n siekte of besering, soos gedefinieer in die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en Siektes, Wet No. 130 van 1993 of die Wet op Bedryfsiektes in Myne en Bedrywe, Wet No. 78 van 1973 (artikel 24 van die Wet).

10.      Waar ’n werknemer dus gaan vir kosmetiese behandeling, bv. kosmetiese chirurgie en waar ’n mediese sertifikaat uitgereik word deur ’n mediese praktisyn wat geregistreer is by die HPSCA, sal die mediese sertifikaat dus geldig wees en sal die werknemer dus geregtig wees op siekteverlof, solank hy / sy voldoende siekteverlof tot sy / haar krediet het.  In hierdie situasie, sou dit dus onregmatig wees van ’n werkgewer om ’n werknemer te dwing om gewone verlof te neem i.p.v. siekteverlof.  Dieselfde situasie sou selfs ook gegeld het waar die besering of siekte deur die werknemer self veroorsaak sou gewees het, bv. in die geval van ’n poging tot selfmoord.

11.      Dit beteken egter nie dat werknemers maar net kan gaan vir kosmetiese behandeling en verwag dat die werkgewer dit net goedsmoeds moet aanvaar nie:

11.1    Eerstens moet die kosmetiese behandeling werklik en inderdaad die werknemer sodanig beseer het of siek gemaak het dat die werknemer ongeskik is vir werk.  Waar die behandeling slegs ongerieflike of onooglike gevolge het a.g.v. die behandeling, bv. ’n opgeswelde gesig, sal nie geldige siekteverlof geneem mag word nie.  D.w.s. indien die werkgewer sou kom werk na die kosmetiese behandeling sal dit definitiewe negatiewe gevolge vir die werkgewer se gesondheid moet inhou of die behandeling sou van so aard moet wees dat dit tydelik onmoontlik geword het vir die werknemer om te kan werk.

11.2    Tweedens, moet kennis geneem word van die bepalings van artikel 20(10) van die Wet, wat handel oor jaarlikse (vakansie) verlof.  Ingevolge hierdie subartikel, moet jaarlikse verlof geneem word ooreenkomstig ’n ooreenkoms tussen die werkgewer en die werknemer of indien daar geen sodanige ooreenkoms is nie, op ’n keer bepaal deur die werkgewer ooreenkomstig hierdie artikel.  Een van die redes vir hierdie bepaling is dat werkgewers, binne die raamwerk van die Wet, ’n sê moet kan hê oor wanneer die werknemer verlof mag neem, d.w.s. dat die werknemer nie eensydiglik slegs verlof neem gedurende ’n tyd wat die werkgewer bv. op sy besigste is nie en nie die werknemer kan afstaan vir verlof nie.  Daar bestaan geen sodanige bepaling t.a.v. siekteverlof nie, hoofsaaklik omdat siekte of beserings onverwags gebeur en normaalweg nie beplan word nie.  Waar die siekte of besering egter bepland veroorsaak word deur die werknemer se toedoen, bv. in die geval van die werknemer se kosmetiese behandeling en die tydperk van siekteverlof sou ongeleë wees vir die werkgewer en vir die werkgewer moontlik onnodige onkostes, uitgawes of ongerief veroorsaak, sou die werkgewer nie die siekteverlof aanbeveel deur ’n geregistreerde mediese praktisyn kon weier nie, maar sou hy suksesvol dissiplinêr teen die werknemer kon optree op grond van malengering of pligsversuim, of enige ander soortgelyke bepaling in die werkgewer se dissiplinêre kode.

12.      Opsomming:

12.1    ’n Werkgewer mag vir doeleindes van kosmetiese behandeling nie siekteverlof weier nie en mag ook dus nie ’n werknemer verplig om gewone verlof te neem nie, mits;

12.1.1      die werknemer voldoende siekteverlof krediet in sy/haar siekteverlof siklus beskikbaar het;

12.1.2      die kosmetiese behandeling werklik en inderdaad die werknemer sodanig beseer het of siek gemaak het dat die werknemer tydelik ongeskik is vir werk; en

12.1.3      die mediese sertifikaat uitgereik en onderteken is deur ’n mediese praktisyn of ’n ander persoon wat gekwalifiseer is om pasiënte te diagnoseer en te behandel en wat geregistreer is by ’n beroepsraad wat by ’n Wet van die Parlement ingestel is, soos bv. die HPCSA.

12.2    Ten spyte daarvan dat die werkgewer, soos hierbo vermeld, moontlik nie die toestaan van siekteverlof vir kosmetiese behandeling mag weier nie, sou die werkgewer moontlik dissiplinêr teen die werknemer kon optree indien die werknemer se gaan vir kosmetiese behandeling onredelik was onder die heersende omstandighede by die werkplek en vir die werkgewer onnodige onkostes, uitgawes of ongerief veroorsaak het.  Dit word dus aanbeveel dat werknemers ’n geskikte tyd vir kosmetiese behandeling met werkgewers onderhandel voordat hulle hulleself onderwerp aan sodanige behandeling en genoodsaak word om siekteverlof daarvoor te neem.

13.      Ten laaste behoort daarop gelet te word dat indien ’n werknemer vir doeleindes van kosmetiese behandeling al sy beskikbare siekteverlof sou opgebruik tydens ’n siekteverlofsiklus, hy/sy verplig kan word om onbetaalde verlof te neem sou verdere siekteverlof nodig wees as gevolg van ander beserings of siektes.

  •  
  •  
  •  
  •  

Kommentaar is gesluit.