Wat is die verskil tussen AfriForum, Helpende Hand en die vakbond Solidariteit?

Dinsdag, Januarie 19th, 2016

AfriForum, Helpende Hand en die vakbond val al drie onder die Solidariteit Beweging. AfriForum is ’n burgerregte-organisasie. Sy hooftaak is om die burgerregte van sy lede en hul gemeenskappe te beskerm deur daardie regte op te eis; regte te beskerm en die burgerlike samelewing te mobiliseer om aan openbare debat en aksies buite partypolitiek deel te neem.

Die vakbond Solidariteit is die ouboet van die Solidariteit Beweging en die beweging is vanuit die vakbond gebore. Solidariteit is in die Christelike tradisie van die vakbondwese gesetel en het dus ʼn unieke benadering tot vakbondwese wat byvoorbeeld verskil van dié van Cosatu. Die hooftaak van die vakbond Solidariteit is om werksekerheid te verseker; diensvoorwaardes te verbeter en om onreg in die werkplek uit te wis.

Solidariteit Helpende Hand is ’n gemeenskapsinisiatief wat fokus op opheffing deur middel van opleiding. Helpende Hand het in 1949 ontstaan om die nood van Afrikanermynwerkers te help verlig. Anders as die staat, wat glo in opheffing deur maatskaplike toelaes, glo Helpende Hand in opheffing deur opleiding. Helpende Hand fokus daarop om armoede te verlig deur mense selfstandig te maak en jongmense voor te berei vir die wêreld van werk.

  •  
  •  
  •  
  •